Dr Andrew Kok – Die Du Plessis-familie in Suid Afrika

Dr Andrew Kok

Ons gasspreker was ons voormalige tak voorsitter, Dr Andrew Kok (foto links). Hierdie baie insiggewende oudiovisuele aanbieding was by die Stellenbosch NGK argief gelewer.

Andrew het gepraat oor die Du Plessis familie se herkoms.

Waar kom die naam vandaan?

Plessis beteken “die plek van die omheining.” Dit dui op die vroeë gewoonte om ʼn familie op ʼn plek te vestig en dit dan te omhein vir beskerming teen rowers en ongediertes. Die Normandiërs het by hul Viking voorvaders die kuns aangeleer om die sogenaamde “motte-en-bailey” kastele te bou. Dit was ʼn uiters effektiewe manier van verdediging, bestaande uit ʼn heuwel (motte) waarop ʼn hout palisade heining en ʼn toring gebou is. Aanliggend was ʼn tweede palisade heining (bailey) met die hele kompleks omsluit deur ʼn diep sloot.

Die oorsprong van die du Plessis van is waarskynlik die versterkte vesting van Le Plessis-Grimoult geleë in die Calvados departement (provinsie), Normandië in noord-westelike Frankryk. Dit het in die vroeë elfde eeu behoort aan Grimoult die Verraaier van Valognes en Val -és-Dunes. Hy het die benaming “verraaier” gekry nadat hy en ‘n groep edelmanne in ongeveer 1047 in opstand gekom het teen Guillame I, die Hertog van Normandië. Grimoult is gevange geneem en in ʼn kerker by Rouen opgesluit waar hy dan ook gesterf het. Na die slag van die Val-sur-Dunes in 1047, is Grimoult se besitting gekonfiskeer en aan die Rooms Katolieke Kerk geskenk.

Waar kom die du Plessis’s vandaan?

Reeds voor 850 nC het Noorweë uit sowat dertig klein afsonderlike koninkryke bestaan. Toe een van hierdie konlngs, Harald Fairhair, die mag bekom het sommige van die ander Noormanne uitgewyk na Frankryk en ander gebiede. Dit sou bekend word as die verowerings deur Vikings.

Teen 800 nC het Hrolf, die seun van ‘n Noorman-veroweraar, die Hertog van Rouen geword en die Frankiese konings het aan hierdie Noormanne in so ‘n mate erkenning verleen dat die Hertogdom van Nomandië ontstaan het. Omstreeks 1000 nC het daar ‘n baron in Normandië gewoon met die naam van Thurstin, ook bekend onder die bynaam “Haldup.” Hy is later as Christen gedoop as “Richard.” Hy was die Baron van la Haye du Puis, of te wel Richard de Ia Haye. Hy het twee hertogdomme besit, nl. “la Haye du Puis” en “le Plessis,” wat langs mekaar geleë was in die departement van Cotentin. Die Vervolière kasteel naby Coussay-les-Bois was reeds teen 1201 in die besit van Guillaume, die seigneur du Plessis, Vervolière en Breux.

Die “Histoire des Maisons de Dreux” deur André du Chesne Tournangau vertel die genealogie van die du Plessis-familie. Dit begin by Tor de Belvoir in ongeveer 940 nC. Vir 21 opeenvolgende geslagte word die du Plessisnasate dan gelys. Onder hulle tel interessante persoonlikhede soos Grimoult die Verraaier, wie se lewensverhaal vertel word in die Tapeserie van Bayeux. ‘n Aantal Guillaume’s wat die titel Seigneur du Plessis, Breux en Vervolière gedra het, Jean, Éscuyer en Seigneur van du Plessis, Breux, Roys, La Carrelilière, Faye en Thou Landgoedere en vele ander. Die storie van die veraf verwante Armand-Jean du Plessis, beter bekend as Kardinaal Richelieu word ook vertel.

Jean Prieur du Plessis

Die Suid-Afrikaanse stamvader is in 1638 in Poitiers gebore waar hy ook as chirurgyn praktiseer. Na hy uit Frankryk vlug gaan werk hy op die St Christoffel Eilande. In Junie 1687 is hy op St Thomas in die Antilles getroud met Madeleine Menanteau. Hierna woon hulle ‘n tyd in Amsterdam en Rotterdam en kom dan in 1688 met die Oosterland na die Kaap. In 1693 vertrek hy en sy gesin met die Sirjansland terug na Nederland. Hulle dogter Madeleine word egter in Ierland gebore en sy vrou sterf ook in hierdie tyd. Van 1697 tot 1698 het hy weer ‘n kort besoek aan die Kaap gebring en woon toe in die Kolonieshuis in van Rhyneveldstraat in Stellenbosch. Hy keer terug na Nedrland en op 29 Augustus 1700 is hy in die Nieuwe Kerk in Amsterdam getroud.met Marie Buiset. In 1702 keer hy terug na die Kaap waar hy as chirurgyn en landbouer ‘n bestaan maak. Op 7 Desember 1708 sterf Jean Prieur du Plessis op Stellenbosch.

Die “Die Du Plessis-familie in Suid Afrika” boek is by die Hugenotevereniging beskikbaar. (Also available in English)

http://www.hugenoot.org.za/publikasies.htm#DuPlessis

Johan Krige – Die Rabies van Groenkloof

Johan Krige

Ons gasspreker, Johan Krige, (foto links) is ‘n Genoot van GGSA en ‘n baie bekwame historikus en genealoog.
Johan het ‘n baie interessante oudiovisuele aanbieding oor die Rabies van Groenkloof gelewer. Die verhaal van die Rabies wentel hoofsaaklik om die lewensloop van die gesinslede van Hans Rabie rondom 1900. Hulle het ‘n tradisie gehad om alle gebeure neer te skryf en sulke dokumente te bewaar. Hierdie kulturele skat vorm die basis van hul verhaal. Maar om dit alles ‘n historiese perspektief te gee, is die geskiedenis van die voorafgaande geslagte ook nagevors en word dit in ‘n verteltrant aangebied. Toepaslike beeldmateriaal gee verdere definisie aan hierdie kleurvolle geskiedenis. Parallel aan die verskyning van die boek is daar ook onlangs die Groenkloof-Rabies se Museum voltooi. Dit word in die solder van Caledon Villa, die historiese woonhuis van die skrywer in Stellenbosch aangebied en kan per afspraak besoek word.

Caledon Villa se Web Tuiste is http://www.caledonvilla.co.za/